Rusland

Article on other languages:

Russiese Federasie (Rusland)
Российская Федерация (Россия)
Rossijskaja Federatsija (Rossija)
Wapen van Rusland
Vlag Wapen
Volkslied: Nasionale Volkslied van die Russiese Federasie
Государственный гимн Российской Федерации
Gosoedarstwenni gimn Rossijskoi Federatsiji
Ligging van Rusland
Hoofstad Moskou
55°45′N 37°37′O
Grootste stad Moskou
Amptelike tale Russies
Regering Federale republiek
Dmitri Medwedef
Wladimir Poetin
Onafhanklikheid

c. 862
Desember 1922
Desember 1991
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
17 075 400 km2  (1ste)
6 592 800 myl2
13
Bevolking
 - 2008 skatting
 - Digtheid
 
142 008 838 (9de)
8,3 / km2 (209de)
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2007 skatting

$2 088 triljoen (7de)
$14 692(54ste)

Geldeenheid roebel (RUB)
Tydsone
 - Somertyd
(UTC+2 – +12)
(UTC+3 – +13)
Internet-TLD .ru
Skakelkode +7

Rusland (Russies: Россия, Rossija), amptelik die Russiese Federasie (Russies: Российская Федерация, Rossijskaja Federatsija), is ’n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Die land lê egter vanuit ’n politieke oogpunt in Europa omdat die belangrikste deel, ook die hoofstad, Moskou, Europees is en sowat 70% van die bevolking daar woon.

Met sy oppervlak van 17 098 242 km² is Rusland die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada. Dit grens aan (antikloksgewys van NW na SO): Noorweë, Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Wit-Rusland, Oekraïne, Georgië, Azerbeidjan, Kazachstan, Sjina, Mongolië en Noord-Korea. Verder is dit deur ’n see of smal seestraat geskei van die Verenigde State (Alaska), Kanada, Turkmenistan, Iran, Turkye, Swede en Japan.

Die land se geskiedenis begin met die ontstaan van die Slawiërs tussen die 3de en 8ste eeu.[1] Die eerste Slawiese staat, Kiëf-Roes, het in die 9de eeu ontstaan. Dit is deur Wikings regeer en het in 988 die Christelike geloof van die Bisantynse Ryk aanvaar. Kiëf-Roes het uiteindelik verbrokkel en in talle klein feodale Russiese state verdeel. Die belangrikste hiervan was die Groothertogdom van Moskou of Moskowië. Moskou het mettertyd die omringende Russiese prinsdomme herenig en die plek van Kiëf-Roes ingeneem. Teen die 18de eeu het die land uitgebrei tot die groot Russiese Ryk, wat gestrek het van Pole tot die Stille Oseaan.

In die 20ste eeu het Rusland as die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) die kern gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig. Rusland is ’n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en ’n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) en die G8.

Inhoud

Geografie

Die Russiese Federasie lê uitgestrek oor die grootste deel van Noord-Eurasië. Vanweë sy grootte is daar groot eentonigheid én afwisseling. Sy klimaat, plantegroei en grondsoorte strek oor ’n groot gebied. Saam met die klimaat wissel die plantegroei: van die toendra van die Oos-Europeese Vlakte en die taiga (naaldboomwoude) tot die steppe (grasvelde) en halfwoestyn aan die Kaspiese See. Daar is 23 Wêrelderfenisgebiede [2] in die land.

Topografie

Die twee dele van Rusland wat die verste van mekaar geleë is, is sowat 8 000 km uitmekaar: die grens met Pole en die verre suidooste van die Koeril-eilande naby Japan. Rusland is oor elf tydsones versprei.

Die Wasjoegan-rivier op die vlaktes van Wes-Siberië

Die land het die wêreld se grootste oppervlakte woude [3] en is bekend as "die longe van Europa"[4]. Net die Amasone-reënwoud absorbeer meer kooldioksied. Dit voorsien Europa en die hele wêreld van ’n enorme hoeveelheid suurstof.

Russiese hengelvlote het toegang tot drie van die wêreld se oseane – die Atlantiese, die Arktiese en die Stille Oseaan – en hulle verskaf baie van die wêreld se visvoorraad.[5] Die Kaspiese See is die bron van wat beskou word as die wêreld se beste kaviaar.

Die grootste deel van Rusland bestaan uit uitgestrekte vlaktes, hoofsaaklik steppe na die suide en digte woude na die noorde met toendra aan die noordelike kus. Bergreekse word aangetref aan die suidelike grense, soos die Kaukasus (met Berg Elbroes, teen 5,642 m / 18,511 ft Rusland en Europa se hoogste punt) en die Altai, asook in die oostelike dele, soos die Werchojansk-reeks en die vulkane op die Kamtsjatka-skiereiland. Die Oeralberge strek noord-suid en verdeel Europa en Asië. Dit is ook ryk aan minerale bronne. Altesaam 10% van die wêreld se bewerkbare grond lê in Rusland.[6]

Rusland se kuslyn is langer as 37 000 km aan die Arktiese en die Stille Oseaan, sowel as die Oossee, See van Azof, Swartsee en Kaspiese See[7]. Die Barentssee, Witsee, Karasee, Laptefsee, Oos-Siberiese See, Tsjuktsji-see, Beringsee, See van Ochotsk en die Sea van Japan is met Rusland verbind. Groot eilande en eilandgroepe sluit in Nowaja Zemlja, die Franz Josef-land, die Sewernaja Zemlja, die Nieu-Siberiese Eilande, Wrangeleiland, die Koerileilande en Sachalin.

Rusland het duisende riviere en mere en het dus een van die wêreld se grootste binnelandse waterbronne. Die grootste van sy watermassas is die Baikalmeer, die wêreld se diepste en mees onbesoedelde varswatermeer.[8] Dit bevat meer as ’n vyfde van die wêreld se vars water.[9] Ander groot mere is onder andere die Ladoga en die Onega.

Van sy 100 000 riviere[10] is die Wolga die land se bekendste, nie net omdat dit die langste rivier in Europa is nie, maar ook vanweë sy groot rol in die Russiese geskiedenis. Rusland se talle natuurlike hulpbronne sluit in petroleum, natuurlike gas, steenkool, hout en minerale.[7][11]

Klimaat

Verskeie faktore bepaal Rusland se klimaat. Die enorme grootte van die land en die feit dat baie dele ver van die see is, veroorsaak dat daar in die grootste gebied ’n kontinentale klimaat is, behalwe in die toendra en die verre suidooste. Berge in die suide verhinder die vloei van warm lugmassas van die Indiese Oseaan af en die vlaktes in die weste en noorde stel die land bloot aan Arktiese en Atlantiese invloede.[12]

In die grootste deel van die land is daar hoofsaaklik twee seisoene: winter en somer. Die lente en herfs is gewoonlik net kort tydperke van wisseling tussen baie lae en baie hoë temperature. Die koudste maand is Januarie (Februarie aan die kus), die warmste is gewoonlik Julie. Groot tempetuurverskille is tipies. In die winter word dit kouer van suid na noord sowel as van wes na oos.

Deelgebiede

Hoofartikel: Deelgebiede van Rusland.

Die Russiese Federasie bestaan uit 83 deelgebiede (Russies: субъекты; soebjekti). Hierdie gebiede het ’n gelyke verteenwoordiging in die Staatsdoema (2 afgevaardigdes per deelgebied), maar die mate van outonomie verskil.

Rusland onderskei die volgende ses kategorieë (soos vanaf 1 Maart 2008): 21 outonome republieke (state), 46 oblaste (provinsies), 8 krais (distrikte), 1 outonome oblast, 5 outonome distrikte en 2 federale stede (Moskou en Sint Petersburg), wat vergelykbaar is met oblaste.

Regering en politiek

Die gebou van die Staatsdoema

Volgens die Russiese grondwet, wat op 12 Desember 1993 met ’n nasionale referendum aanvaar is, is Rusland ’n federasie en ’n semi-presidensiële republiek, waarin die president die staatshoof is[13] en die eerste minister die regeringshoof. Die Russiese Federasie is in wese ’n verteenwoordigende demokrasie. Die uitvoerende mag lê by die regering.[14] Die wetgewende mag lê by die regering en die twee kamers van die Federale Vergadering.[15] Die regering word gereguleer deur ’n stelsel van skeiding van magte soos bepaal in die grondwet.

Die federale regering bestaan uit die volgende:

  • Wetgewende mag: Die Federale Vergadering met sy twee kamers, die Staatsdoema (450 lede) en Federale Raad (176 lede), maak federale wette, verklaar oorlog, keur verdrae goed en kan die toekenning van geld aan ander instellings goed- of afkeur.
  • Uitvoerende mag: Die president is die hoofaanvoerder van die weermag, kan wetsontwerpe veto en stel die kabinet saam.
  • Geregtelik mag: Die konstitusionele hof, hooggeregshof, die hooggeregshof van arbitrasie en laer federale howe, waarvan die regters deur die Federale Raad aangestel word op aanbeveling van die president, vertolk wette en kan wette terugtrek wat hulle as ongrondwetlik beskou.

Volgens die Russiese grondwet is grondwetlike justisie in die howe gebaseer op die gelykheid van alle burgers, [16] die regters is onafhanklik en net onderworpe aan die wet,[17] verhore moet oop wees vir die publiek en beskuldigdes word verdediging gewaarborg.[18] Sedert 1996 is daar ’n moratorium op die doodstraf, hoewel dit nog nie wetlik afgeskaf is nie.

Die president word deur die volk gekies vir ’n termyn van vier jaar[19]. Hy is vir ’n tweede termyn herkiesbaar, maar nie vir ’n derde termyn nie.[20] Die laaste verkiesing is op 2 Maart 2008 gehou. Regeringsdepartemente bestaan uit die eerste minister en onderpremiers, ministers en ander verkose individue, wat almal deur die president aangestel word.

Van die belangrikste politieke partye in Rusland is Verenigde Rusland, die Kommunistiese Party, die Liberaal-Demokratiese Party van Rusland en Regverdige Rusland.

Buitelandse betrekkinge en die weermag

In die internasionale reg word erken dat Rusland die plek van die voormalige Sowjetunie ingeneem het.[21] Rusland sit die internasionale verpligtinge van die Sowjetunie voort, het dié land se permanente plek ingeneem in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies en het sy lidmaatskap oorgeneem van ander internasionale organisasies, asook sy regte en verpligtinge wat internasionale verdrae en skuld betref.

Rusland se buitelandse beleid het vele fasette. Die land het diplomatieke betrekkinge met 178 lande en het 140 ambassades.[22] Sy buitelandse beleid word bepaal deur die president en word geïmplementeer deur die departement van buitelandse sake.[23]

As een van die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad speel Rusland ’n belangrike rol in die handhawing van internasionale vrede en veiligheid – asook in die oplossing van internasionale konflikte deur sy deelname aan die Midde-Oosterse Kwartet, the sesparty-samesprekings met Noord-Korea en die oplossing van die Kosovo-konflik. Rusland is lid van die G8 (groep van agt nywerheidslande), die Europese Raad, die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa en die Asies-Pasifiese Ekonomiese Samewerkingsforum. Rusland speel ook gewoonlik ’n leidende rol in streekorganisasies soos die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS), Eurasiese Ekonomiese Gemeenskap, die Verdragsorganisasie vir Kollektiewe Veiligheid en die Sjanghaise Samewerkingsorganisasie. Sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie het Rusland ’n vriendskapliker dog wispelturige verhouding met die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo). Die Navo-Russiese Raad is in 2002 gestig om samewerking tussen hulle te bevorder.[24]

Russiese valskermsoldate tydens ’n oefening in Kazachstan.

Rusland het Sowjet-bates oorsee oorgeneem en die meeste van die Sowjetunie se vervaardigings- en verdedigingsgeriewe is in die land self.[25] Die Russiese weermag bestaan uit die grondmag, vloot en lugmag. In 2006 het die weermag 1,03 biljoen lede in aktiewe diens gehad. Rusland het die grootste voorraad kernwapens in die wêreld en die tweede grootste vloot ballistiese-missiel-duikbote.[26] Die land vervaardig al sy eie militêre toerusting en is sedert 2001 die grootste verskaffer van wapens: Hy is verantwoordelik vir sowat 30% van wapenverkope wêreldwyd[27] en voer wapens na sowat 80 lande uit.[28]

Net soos in die Sowjetunie is daar diensplig vir alle manlike burgers tussen 18 en 27 jaar. Weens verskeie probleme is die tydperk in 2008 begin verkort sodat kontraksoldate teen 2010 70% van die weermag kan uitmaak. Verdedigingsuitgawes het die afgelope ses jaar verviervoudig.[29] Die regering se amptelike militêre uitgawes in 2008 is $40 biljoen,[30], hoewel verskeie bronne soos Amerikaanse Intelligensie[31] en die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies[32] dit heelwat hoër raam.[33] Tussen 2006 en 2015 word sowat $200 biljoen bestee aan die opgradering van militêre toerusting.[34]

Ekonomie

Sedert die begin van die huidige eeu het stygende oliepryse, toenemende buitelandse beleggings, hoër binnelandse verbruik en groter politieke stabiliteit Rusland se ekonomiese groei ’n hupstoot gegee. Die land het 2007 vir die negende agtereenvolgende jaar met ekonomiese groei afgesluit, met ’n gemiddelde van 7% per jaar sedert die finansiële krisis van 1998. In 2007 was Rusland se Bruto Binnelandse Produk (BBP) $2 076 triljoen, die sewende grootste in die wêreld en 8,1% hoër as die vorige jaar. Die gemiddelde salaris in Rusland was vroeg in 2008 sowat $640 per maand in vergelyking met $80 in 2000.[35] Sowat 14% van Russe het in 2007 onder die broodlyn gelewe[36] – heelwat minder as die 40% in 1998 toe die ekonomie op sy grootste laagtepunt was sedert die verbrokkeling van die Sowjetunie. Werkloosheid was 6% in 2007 in vergelyking met sowat 12,4% in 1999.[37][38]

’n Rosneft-vulstasie. Rusland is die grootste uitvoerder van natuurlike gas en die tweede grootste olie-uitvoerder in die wêreld.

Rusland het die wêreld se grootste natuurlike-gas-, tweede grootste steenkool- en agtste grootste oliereserwes. Dit is die grootste uitvoerder van natuurlike gas in die wêreld en die tweede grootste olie-uitvoerder. Olie, natuurlike gas, metale en hout maak 80% uit van die land se uitvoer.

In 2001 het ’n meer gestroomlynde belastingstelsel die las op die land se burgers verlig en staatsinkomste verhoog.[39]

Die ekonomiese ontwikkeling van die land is egter oneweredig aangesien die Moskou-streek ’n buitengewoon groot bedrag tot die BBP bydra.[40] ’n Groot deel van Rusland, veral plattelandse gebiede, vaar veel swakker. Tog het die middelklas gegroei van net 8 miljoen mense in 2000 tot 55 miljoen in 2006.[41] Rusland het in 2007 altesaam 110 biljoenêrs gehad, die grootste getal buiten die VSA.[42]

Ondanks die land se sterk ekonomiese groei lys die Wêreldbank verskeie uitdagings wat die Russiese ekonomie in die gesig staar, onder meer die diversifisering van die ekonomie en die aanmoediging van die groei van klein en middelslag-besighede. Inflasie was teen die einde van 2007 sowat 12% in vergelyking met 9% in 2006. Die styging het in die eerste kwartaal van 2008 voortgeduur, hoofsaaklik weens stygende kospryse.

Bevolking

Die Russiese Federasie het ’n uiteenlopende, veelrassige bevolking van 142 miljoen mense, wat tot sowat 160 verskillende etniese groepe en inheemse volke behoort:[43]

  • Russe: 79,8%
  • Tatare: 3,8%
  • Oekraïners: 2,3%
  • Tsjoewas: 1,3%
  • Tsjetsjene: 1,1%
  • Armeniërs: 1%
  • Ander: 10,7%

Hoewel die bevolking groot is, is die bevolkingsdigtheid klein vanweë die geweldige grootte van die land. Die digtheid is die hoogste in Europese Rusland, naby die Oeral-gebergte en in Suidwes-Siberië.

In 2006 het 186 380 immigrante Rusland binnegekom, waarvan 95% van GOS-lande is.[44] Daar is ook sowat 10 miljoen onwettige immigrante van oud-republieke van die Sowjetunie.[45]

Sowat 73% van die burgers woon in stedelike gebiede.[46] Die twee grootste stede is Moskou (10 126 424 inwoners in 2002) en Sint Petersburg (4 661 219). Elf ander stede het meer as ’n miljoen inwoners: Jekaterinburg, Kazan, Nizjni Nowgorod, Nowosibirsk, Oefa, Omsk, Perm, Rostof aan die Don, Samara, Sint Petersburg, Tsjeljabinsk en Wolgograd.

Geskiedenis

Vroeë periode

In prehistoriese tye is die gebied wat later Europese Rusland sou word, bewoon deur veral Slawiese en Fins-Oegriese volke. Die Slawiërs was waarskynlik in ’n gebied rondom die Pripjat-moerasse gekonsentreer en het van daar verder versprei.[47] Hulle het veral handel gedryf met Griekeland, die Krim en later met die Romeinse en Bisantynse ryke.

Kiëf-Roes

Hoofartikel: Kiëf-Roes.
Kiëf-Roes omstreeks 1000 n.C.

Kiëf-Roes het bestaan van omstreeks 880 tot die middel van die 12de eeu, met Kiëf as belangrikste sentrum. Die Roes-volk het waarskynlik die huidige Noordwes-Rusland sedert die 8ste eeu oorheers. In die 9de eeu het hulle in ’n mate georganiseerd geraak. Volgens die Primêre Kronieke, die vroegste aantekening van die streek se geskiedenis, het ’n Warangiër (of Wiking) met die naam Rjoerik hom in Nowgorod gevestig. Hy is in 860 deur die volke in die gebied as gemeenskaplike leier gekies voordat hy suid getrek en sy mag na Kiëf, hoofstad van die huidige Oekraïne, uitgebrei het. Hy word in die Kronieke die voorvader van die Rjoerik-dinastie genoem wat tot aan die einde van die 16de eeu oor onder meer Rusland sou regeer.

Kiëf het sy goue eeu beleef tydens die bewind van Wladimir I (980-1015) en sy seun Jaroslaf I die Wyse (1019-1054). In dié tyd is die Christelike geloof van Bisantium aanvaar en die eerste Oos-Slawiese geskrewe regskode opgestel. Die vroeë Roes-heersers was waarskynlik ’n Skandinawiese elite van krygsmanne wat regeer het oor die meerderheid, wat bestaan het uit verskeie Slawiese volke.

Die grootste probleem van Kiëf-Roes was dit op die rand van Europa gelê het en aan die Asiatiese steppe gegrens het, van waar nomadiese volke die ryk gereeld binnegeval het. ’n Tweede groot probleem was eersgeboortereg, wat daartoe gelei het dat met elke troonbestyging ’n nuwe burgeroorlog uitgebreek het. Tussen 1054 en 1224 was daar nie minder as 83 burgeroorloë nie. Eindelik het die ryk vir goed versplinter. Nuwe prinsdomme het ontstaan wat elk deur afstammelinge van Rjoerik regeer is: Nowgorod, Wladimir-Soezdal, Halitsj-Wolhinië, Polotsk, Smolensk, Tsjernigof en Perejaslaf.

Weens die versplintering het dit die Mongole, of Goue Horde, wat die gebied sedert 1223 binnegeval het, nie veel gekos om die prinsdomme omver te werp nie.[48] Mongoolse oorheersing het die gebied se ekonomiese en sosiale ontwikkeling gestrem [49] en sou vir die volgende drie eeue voortduur.

Moskowië en die eerste tsaars

’n Toneel uit die Middeleeuse Russiese geskiedenis.

Die magtigste opvolgerstaat van Kiëf-Roes was Moskowië, of die Groothertogdom van Moskou. Dit annekseer buurstate soos Twer en Nowgorod en word eindelik die basis van die moderne Russiese staat.

Ná die val in 1453 van Konstantinopel (ook bekend as die Tweede Rome) eien Moskou hom die naam Derde Rome toe omdat dit die laaste sentrum van die Ortodokse Kerk is. Iwan III begin homself "tsaar van die hele Rusland" noem en verwerp die soewereiniteit van die Goue Horde.

Van 1533 tot 1584 regeer Iwan die Verskriklike. Hy is die eerste heerser wat amptelik as tsaar van Rusland gekroon word. Hy beywer hom aanvanklik vir vreedsame hervormings en vernuwings. Hy stel die boekdrukkuns in, onderwerp die kerk aan die staat en standaardiseer rituele en verordeninge.[50][51]

Iwan soek nuwe handelsmoontlikhede en stel die hawe van Archangelsk aan die Witsee vir Engelse handelaars oop. In die ooste lyf hy die kanate van Kazan en Astrachan in. Hy stel ook ’n wet in wat die bewegingsvryheid van boere beperk – ’n belangrikse stap in die rigting van die latere lyfeienskap.

Sy latere bewind word egter deur ’n periode van terreur gekenmerk. Hy raak betrokke in die sogenaamde Lyflandse Oorlog wat 22 jaar voortsleep en die Russiese ekonomie en leër ruïneer. [52] Boonop sterf sy vrou, Anastasia Romanowna en Iwan glo die bojare het haar vermoor. Hy kom nie hierdie slag te bowe nie en sy gesondheid begin agteruitgaan. Hy gaan geestelik agteruit en word paranoïes en gewelddadig.

In 1564 skep hy ’n polisiemag, die Opritsjniki, wat ’n moorddadige terreurbende word wat links en regs onder die adel en die volk moor. In 1581 slaan Iwan glo sy oudste seun in ’n woedebui dood. Ná Iwan se dood word hy opgevolg deur sy verstandelik gestremde seun Fjodor. Sy tweede oudste oorlewende seun, Dmitri Iwanowitsj, is toe maar twee jaar oud en word kort daarna vermoor.

Tydens Fjodor se bewind lê die regte mag in die hande van sy swaer en voog, die bojaar Boris Godoenof. Ná Fjodor se dood begin ’n chaotiese tydperk, bekend as die Tyd van Beroeringe[53], waarin Rusland onder andere deur Vals Dmitri I en Vals Dmitri II regeer word. Laagenoemde word op 11 Desember 1610 vermoor terwyl hy halfdronk is en dit lui die tydperk van die Huis van Romanof in.

Keiserlike Rusland

Onder die Huis van Romanof en Pieter die Grote word Rusland ’n wêreldmag. Pieter regeer van 1682 tot 1725. Hy verslaan Swede en in ’n deel van die gebied wat hy van dié land verower, stig hy later Sint Petersburg. Pieter se hervormings het meegebring dat die land geweldig beïnvloed is deur die Wes-Europese kultuur. Katharina die Grote, wat van 1762 tot 1796 regeer, sit sy poging voort om Rusland te vestig as een van die groot magte in Europe. Rusland brei in dié tyd ook geweldig uit.

Idees van liberalisme word in die Dekabriste-opstand van 1825 onderdruk en gevolg deur dekades van politieke onderdrukking. Die voortduur van lyfeienskap en die konserwatiewe beleidsrigtings van Nikolaas I strem ontwikkeling in Rusland in die middel-negentiende eeu. Sy opvolger, Aleksander II (1855–1881) stel verskeie hervormings in, onder meer die afskaffing van lyfeienskap in 1861. Hy sterf egter in ’n sluipmoordaanval en sy opvolger, Aleksander III, beëindig sy pa se pogings om groter outonomie aan die Russiese volk te gee. Hy ontslaan liberale ministers, beperk die bevoegdhede van die zemstwo's, verskerp die staatstoesig op middelbare en hoër onderwys, brei die bevoegdhede van die polisie aansienlik uit en tree as bewaker van die ortodoksie streng op teen Jode, Rooms-Katolieke en Protestante. Opstandelinge en andersdenkendes word in massas na Siberië verban.

Onder sy opvolger, Nikolaas II, duur dié toestande voort. Ongenaakbare toestande in fabrieke lei tot groot steun aan die revolusionêre sosialistiese beweging. In Januarie 1905 word daar gevuur op stakende werkers in Sint Petersburg en honderde sterf of word gewond. Dit, die Russies-Japanse Oorlog en die gebeure van Bloedige Sondag in 1905 lei tot die Russiese Rewolusie van 1905. Hoewel die opstand onderdruk word, word Nikolaas gedwing om sekere hervormings in te stel. Die basiese lewe van die werkers bly egter beroerd.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog word die wantroue in die regering nog groter weens die hoë koste en sterftesyfer van die oorlog en gerugte van korrupsie en selfs verraad. Dit lei tot die Russiese Rewolusie van 1917. Talle opstande vind plaas en word gesteun deur talle soldate. Baie van die opstande word gereël deur demokraties verkose rade genaamd sowjets. Die Februarie-rewolusie lei tot die abdikasie van Nikolaas II. Hy word opgevolg deur ’n voorlopige regering. Dié het aanvanklik die steun van die sowjets, maar is nie in staat om die talle probleme in die land op te los nie. In die tweede rewolusie wat in Oktober volg en deur Wladimir Lenin gelei word, word die Voorlopige Regering omvergewerp en die wêreld se eerste kommunistiese staat gestig.

Sowjet-Rusland

Hoofartikel: Sowjetunie.

Ná die Oktober-rewolusie breek ’n burgeroorlog uit tussen die nuwe regering se Rooi Leër en die Wit Leër van die monargiste, konserwatiewe en gematigde sosialiste wat teen die drastiese hervormings van die Bolsjewiste is.

Die eerste mens in die ruimte, Joeri Gagarin.

Teen die einde van die burgeroorlog het 20 miljoen Russe al gesterf en die ekonomie en infrastruktuur was aan flarde. Die Russiese Federatiewe Sosialistiese Sowjetrepubliek stig die Sowjetunie op 30 Desember 1922 saam met drie ander republieke. Die Russiese republiek oorheers die Sowjetunie tydens sy 74-jarige bestaan. Die Bolsjewiste stel gratis mediese sorg en opvoeding in, asook die reg om ’n werk en huisvesting te hê. Vroueregte word aansienlik verbeter. [54] Ná Lenin se dood in 1924 word Josef Stalin ’n diktator. Hy begin met industrialisasie en in ’n kort tyd verander die Sowjetunie van ’n landbouland in ’n groot, magtige nywerheidsmag.

Die land tree uit die Tweede Wêreldoorlog as een van die wêreld se supermoondhede. Die Rooi Leër beset Oos-Europa ná die oorlog en Stalin stel kommunistiese regerings in dié streek se lande in. As ’n groot kernwapenmag raak die land in ’n stryd om wêreldoorheersing betrokke met die Verenigde State van Amerika wat bekend staan as die Koue Oorlog.

Onder Stalin se opvolger, Nikita Chroesjtsjof, stuur die Sowjetunie die wêreld se eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik I, die lug in en die Russiese ruimtevaarder Joeri Gagarin word die eerste mens wat in ’n bemande ruimtetuig (Wostok 1) om die aarde wentel. Spanning tussen die twee supermoondhede neem toe weens die Amerikaanse Jupiter-missiele in Turkye en die missielkrisis in Kuba. Ná Chroesjtsjof se dood ontstaan weer ’n tydperk van gedeelde mag waarin Leonid Brezjnef in die vroeë 1970's na vore tree as die belangrikste figuur in Sowjet-politiek. Tydens sy bewind is daar ekonomiese stagnasie en val die Sowjetunie Afganistan binne.

Vanaf 1985 stel Michail Gorbatsjof sy beleid van glasnost (openheid) en perestroika (hervorming) in in ’n poging om die land te moderniseer. In Augustus 1991 is daar ’n mislukte staatsgreep teen hom om te keer dat die Sowjetunie ondergaan. In Rusland kom Boris Jeltsin aan die bewind en kondig die einde van die Kommunistiese bewind aan. Die Sowjetunie versplinter in vyftien onafhanklike state en word in Desember 1991 amptelik ontbind. Jeltsin word in Junie 1991 verkies tot president van Rusland in die eerste presidensiële verkiesing in die Russiese geskiedenis.

Russiese Federasie

Tydens en ná die versplintering van die Sowjetunie, terwyl uitgebreide hervormings, onder meer privatisasie, plaasvind, beleef die Russiese ekonomie ’n groot krisis. Die BBP en nywerheidsproduksie neem tussen 1990 en einde 1995 met sowat 50% af.[55] Prysbeheer word afgeskaf en daar word begin met privatisering. Miljoene verarm – volgens die Wêreldbank leef tussen 39% en 49% van die bevolking teen middel 1993 in armoede in vergelyking met 1,5% in die laat-Sowjettydperk.[56] Vertragings in die betaling van lone word ’n langdurige probleem met miljoene mense wat maande en selfs jare te laat betaal word. Die privatiseringsproses bring mee dat beheer van ondernemings grootliks van staatsagentskappe verskuif na groepe individue met kontakte in die regering en die mafia. Gewelddadige kriminele groepe neem dikwels staatsondernemings oor en open met sluipmoorde die pad na afpersing. Korrupsie in die regering word alledaags. Baie van die nuwe rykes neem biljoene se kontant en bates uit die land. Daar is ook sosiale agteruitgang en die geboortesyfer daal geweldig terwyl die sterftesyfer die hoogte in skiet. Wetteloosheid is volop. Misdaadbendes en georganiseerde misdaad floreer en ander gewelddadige misdade vier hoogty.[57]

Die 1990's word gekenmerk deur gewapende etniese konflik, soos in Tsjetsjnië, Noord-Ossetië en Abchasië. Hoë begrotingstekorte en die Asiatiese finansiële krisis van 1997 vererger Rusland se finansiële probleme en laat die BBP nog verder daal. [58]

Op 31 Desember 1999 bedank Jeltsin as president en oorhandig sy pligte aan die pas aangestelde eerste minister Wladimir Poetin, wat daarna die 2000-verkiesing wen. Poetin se gewildheid neem toe nadat hy die Tsjetsjniese opstande onderdruk. Tydens sy bewind herstel die ekonomie en toon nou reeds nege jaar agtereenvolgens ’n groei. Dit verhoog die lewenstandaard en plaas Rusland terug op die wêreldverhoog. Hoewel talle Westerse lande Poetin kritiseer omdat hulle baie van sy hervormings as ondemokraties beskou, [59] neem sy gewildheid binne Rusland toe vanweë die herstel van orde, stabiliteit en vooruitgang.

In die 2008-verkiesing word Dmitri Medwedef verkies tot nuwe president. Hy word deur Poetin gesteun en wen 70,22% van die stemme te midde van groot kritiek dat die verkiesing nie regverdig was nie. Hy word op 7 Mei 2008 beëdig.

Taal

Hoofartikel: Russies.

Rusland se 160 etniese groepe praat sowat 100 tale. Volgens die 2002-sensus praat 142,6 miljoen mense Russies, gevolg deur Tartaars met 5,3 miljoen en Duits met 2,9 miljoen sprekers.[60] Russies is die enigste amptelik staatstaal, maar elke republiek binne die federasie mag sy plaaslike taal kies as tweede amptelike taal.[61]

Russies behoort tot die Indo-Europese taalfamilie en binne dié taalfamilie tot die Slawiese tale. Dit is een van die ses amptelike tale van die Verenigde Nasies.

Godsdiens

Hoofartikel: Russies-Ortodokse Kerk.
Die Katedraal van Christus die Verlosser in Moskou, wat in die Sowjettydperk afgebreek en van 1990 tot 2000 herbou is.

Die Christendom, Islam, Boeddhisme en Judaïsme is Rusland se tradisionele godsdienste en word beskou as deel van die land se "historiese erfenis", volgens ’n wet van 1997.[62] Skattings van die aantal gelowiges verskil grootliks tussen bronne, en sommige meen dat tussen 16% en 48% van die bevolking ongelowig is. [63]

Russies-Ortodoksie is die grootste geloof in Rusland.[64] Die Kerk het ontstaan in 988, toe grootprins Wladimir die Grote van Kiëf die Christelike geloof aangeneem het as die land se amptelike godsdiens.

Kleiner Christelike gelowe sluit Rooms-Katolieke, Armeens-Apostoliese en verskeie Protestantse kerke in.

Kultuur

Klassieke musiek en ballet

Die komponis Pjotr Iljitsj Tsjaikofski (1840–1893).

Rusland se groot aantal etniese groepe het elke sy eie tradisies van volksmusiek. Musiek in die 19de eeu is gekenmerk deur groot spanning tussen die klassieke komponis Michail Glinka en sy volgelinge aan die een kant en die aanhangers van die Russiese Musiekvereniging onder aanvoering van komponiste Anton en Nikolai Rubinstein aan die ander kant. Eersgenoemde het die Russiese nasionale identiteit omarm en godsdiens- en volkselemente by hul komposisies gevoeg, terwyl laasgenoemde se musiek konserwatief was. Die latere Romantieke tradisie van Pjotr Iljitsj Tsjaikofski, een van die beroemdste komponiste van die Romantiek wie se musiek gewild en gelief geraak het vanweë die kenmerkend Russiese aard daarvan sowel as die ryk harmonieë en opwekkende melodieë, is na die 20ste eeue deurgevoer deur Sergei Rachmaninoff, een van die laaste groot kampioene van die Romantieke styl van Europese klassieke musiek.

Wêreldberoemde komponiste van die 20ste eeu sluit in Scriabin, Strawinski, Rachmaninoff, Prokofijef en Sjostakowitsj. Gedurende die grootste deel van die Sowjet-era is musiek streng beheer om te bly binne die perke van die Stalinistiese beleid van sosialistiese realisme. Russiese konservatoriums het ’n geslag wêreldbekende solokunstenaars opgelewer. Van die bestes is violiste David Oistrakh en Gidon Kremer, tsjellis Mstislav Rostropovich, pianiste Vladimir Horowitz, Sviatoslav Richter en Emil Gilels en die sangeres Galina Vishnevskaya.

Tsjaikofski het die wêreld se bekendste balletwerke gekomponeer, soos Swanemeer en Die Neutkraker. In die 20ste eeu het die Russiese dansers Anna Pawlowa en Vaslav Nijinsky beroemd geraak en impresario Sergei Diaghilev en sy Ballets Russes se toere oorsee het die ontwikkeling van dans wêreldwyd beïnvloed[65] en die Sowjetunie se choreografieskole het die een beroemde internasionale ster ná die ander opgelewer, onder andere Maya Plisetskaya, Rudolf Nureyev en Mikhail Baryshnikov. Die Bolsjoi-ballet in Moskou en die Kirof in Sint Petersburg is steeds wêreldberoemd.[66]

Letterkunde

Russiese letterkunde word beskou as van die invloedrykste en beste ontwikkel in die wêreld en dra by tot van die wêreld se bekendste letterkundige werke.[67] Dit dateer uit die 10de eeu en teen die vroeë 19de eeu het ’n plaaslike tradisie ontstaan wat van die beste skrywers van alle tye opgelewer het. Dié periode het begin met Aleksander Poesjkin, wat beskou word as die vader van die moderne Russiese letterkunde en dikwels beskryf word as die Russiese William Shakespeare.[68] Van die bekendste Russiese digters en skrywers van die 19de eeu is Anton Tsjechof, Michail Lermontof, Leo Tolstoi, Nikolai Gogol, Iwan Toergenef en Fjodor Dostojefski. Iwan Gontsjarov, Michail Saltikof, Aleksei Pisemski en Nikolai Leskof was bekende prosaskrywers. Tolstoi en Dostojefski was veral grootse figure wat albei al beskryf is as die beste romankrywers ooit.[69][70]

Die skrywer Leo Tolstoi (1828–1910).

Teen die 1880's het Russiese letterkunde begin verander. Die tyd van die groot romanskrywers was verby en kort fiksie en poësie het gewild geraak vir die volgende paar dekades, wat die "Silwer Era" genoem is. Waar dit voorheen deur realisme oorheers is, het simboliek die Russiese letterkunde tussen 1893 en 1914 oorheers. Van die voorste skrywers van hierdie tyd was Waleri Brjoesof, Andrei Beli, Wjatsjeslaf Iwanof, Aleksander Blok, Dmitri Merezjkofski, Fjodor Sologoeb, Anna Achmatowa, Osip Mandelstam, Leonid Andrejef, Iwan Boenin en Maksim Gorki.

Ná die Russiese Rewolusie van 1917 en die daaropvolgende burgeroorlog het die kulturele lewe veel te wense oorgelaat. Sommige gevestigde skrywers het Rusland verlaat terwyl ’n nuwe geslag skrywers wat die rewolusie ten minste in ’n mate ondersteun het, na vore getree het. Van hulle het skrywersorganisasies gestig met die doel om ’n nuwe en kenmerkende werkersklaskultuur in die nuwe staat te skep. In die 1920's het skrywers groot verdraagsaamheid geniet. In die 1930's is sensuur verskerp in ooreenstemming met Josef Stalin se beleid van sosialistiese realisme. Ná sy dood is die beheer telkens verslap. Teen die 1970's en 1980's het baie skrywers die riglyne van sosialistiese realisme geïgnoreer. Die vernaamste skrywers van die Sowjettyd sluit in Jewgeni Zamjatin, Isaac Babel, Joeri Olesja, Wladimir Nabokof, Michail Boelgakof, Boris Pasternak, Aleksandr Solzhenitsyn, Wladimir Majakofski, Michail Sjolochof, Jewgeni Jeftoesjenko en Andrei Woznesenski.

Rolprente

Terwyl rolprente in die Weste aanvanklik beskou is as ’n vorm van goedkoop vermaak vir die werkersklas, het die Russiese rolprentwese ná die 1917-rewolusie ’n ernstiger oogmerk gehad. [71] Russiese en later Sowjet-rolprentmakers het grootse prente gemaak soos The Battleship Potemkin.[72] Sergei Eisenstein en Andrei Tarkofski het van die wêreld se innoverendste en invloedrykste regisseurs geword.

In 1932 het Stalin sosialistiese realisme die staatsbeleid gemaak. Dit het ’n demper geplaas op kreatiwiteit, maar baie Sowjet-rolprente in dié genre was geslaagd, onder andere Tsjapajef, Die Kraanvoëls Vlieg en Ballade van ’n Soldaat. Leonid Gaidai se komedies was in die 1960's en 1970's gewild en in 1969 is Wladimir Motil se Wit Son van die Woestyn uitgereik, wat ’n nuwe genre bekend as "osterns" ingelei het. Ruimtevaarders kyk na dié prent voor elke reis na die ruimte.[73]

In die 1980's en 1990's het die Russiese rolprentwese ’n krisis beleef. Hoewel rolprentmakers hulle nou vrylik kon uitdruk, is staatsubsisies drasties verminder en minder prente is vervaardig. Aan die begin van die 21ste eeu het meer mense na die teaters begin gaan en die bedryf het begin groei in die lig van die land se verbeterende ekonomie. Meer prente word reeds hier vervaardig as in Duitsland of Brittanje.[74] In 2007 is $565 miljoen se kaartjies verkoop – 37% meer as in die vorige jaar[75] Russiese prente word internasionaal steeds hoog aangeslaan. Russian Ark (2002) was die eerste vollengte-rolprent ooit wat in een lang skoot geskiet is.

Beeldende kuns

Roes: Die Siel van die Volk deur Michail Nesterof simboliseer Rusland se historiese spirituele soeke.

Vroeëre Russiese skilderkuns het gefokus op die skilder van ikone en helderkleurige fresko's (muurskilderye), ’n kunsvorm wat die Russe van Bisantium geërf het. In 1757 is die Russiese Kunsakademie gestig wat ten doel gehad het om ’n internasionale rol en status aan Russiese kunstenaars te gee. Van die bekendste skilders van die akademie was Iwan Argoenof, Fjodor Rokotof, Dmitri Lewitzki en Wladimir Borowikofski. Realisme was gewild in die 19de eeu en skilders het die Russiese identiteit vasgevang. Ander kunstenaars het gefokus op sosiale kritiek – hulle het die toestande van die armes uitgelig en die owerhede as karikature uitgebeeld.

Ná die afskaffing van lyfeienskap in 1861 het sommige kunstenaars op menslike lyding gefokus. Dramatiese oomblike uit die geskiedenis is ook geskilder. Die Peredwizjniki (Swerwers) was ’n groep kunstenaars wat ’n kunsrigting begin het wat vry was van die beperkinge van die Kunsakademie. Hul skilderye het groot sosiale en politieke betekenis gehad. Van die bekendstes was Iwan Sjisjkin, Archip Koeindzji, Iwan Kramskoi, Wasili Polenof, Isaak Lewitan, Wasili Soerikof, Wiktor Wasnetsof en Ilja Re