|
Article on other languages:
|
Genève (Duits Genf) is op een na die grootste stad van Switserland. Dit lê aan die suidwestelike rand van die Franstalige Switserland (die Romandie, Frans: Suisse Romande), teen die uitloop van die Rhône uit die Meer van Genève. Genève is die setel van 'n groot aantal internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, CERN, die Internasionale Rooi Kruis, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO), die ITU, WIPO, die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) en die Wêreldraad van Kerke (WRK). Die stad het 184 758 inwoners (einde 2003), waarvan sowat 44% buitelanders. Die agglomerasie Genève het sowat 640 000 inwoners (2000). Die historiese stadskern van Genève lê op 'n heuwel, wat danksy die beskerming deur die Meer van Genève, die riviere Rhône en Arve en slote teen die ooste eeue lank 'n natuurlike toevlugsoord gevorm het. Ná die sloping van die versterkings in die tydperk tussen 1850 en 1880 het die stad begin uitbrei. Die stad Genève, wat in 1842 as 'n administratiewe eenheid ontstaan het, het in 1930 met die voorstede Les Eaux-Vives, Le Petit-Saconnex en Plainpalais versmelt. Gaius Julius Caesar het reeds in die jaar 52 v.C. na Genève as Genua verwys, terwyl die stad in later historiese dokumente Genava of Civitas Gevanensium genoem word. Dit was aanvanklik 'n oppidum van die Keltiese Allobrogers en is daarna as 'n Romeinse vicus en later civitas uitgebou. Ná die volksverhuising het Genève as die hoofstad van die Boergondiërs en as 'n Frankiese nedersetting gedien. Genève is die geboortestad van die Calvinisme en staan derhalwe ook as die "Protestantse Rome" bekend. Genève, wat in die 16de en 17de eeu as 'n belangrike toevlugsoord vir Hugenote-vlugtelinge gedien het, het sedert die 19de eeu tot die kosmopolitiese sentrum van die Franstalige Wes-Switserland ontwikkel.
Geskiedenis
Op 11 Desember vier die stad jaarliks die Escalade de Genève, die mislukte verowering deur Savoye in die jaar 1602. Besienswaardighede
PersoonlikhedeBekende burgers
Tydelike inwoners
Eksterne skakel |
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.