1961 was die eerste "onderstebo" jaar - met ander woorde, 'n jaartal wat dieselfde lyk wanneer dit omgedraai en bekyk word, as wanneer dit regop staan - sedert 1881, en is die laaste jaar wat só lyk tot die jaar 6009! Dit was 'n gewone jaar (in teenstelling met 'n skrikkeljaar) wat op 'n Sondag begin het.
25 Januarie - Om "linkse uitspattigheid" te beëindig, pleeg 'n junta wat uit twee weermagsoffisiere en vier burgerlikes bestaan, 'n staatsgreep in El Salvador, en skop só 'n ander junta uit wat slegs drie maande lank regeer het.
26 Januarie - John F. Kennedy stel Janet G. Travell aan om sy persoonlike arts te wees. Dit is die eerste keer dat 'n vrou hierdie posisie beklee.
31 Januarie - Ham, 'n manlike sjimpansee wat 17 kg weeg, word in die ruimte ingestuur, as deel van 'n toets in die Mercuriusprojek met die uiteindelike idee om Amerikaanse ruimtevaarders ook daar te kry.
12 April - Joeri Gagarin word die eerste persoon om om die aarde te wentel. Hy is gelanseer in die Vostok 1, wat binne een uur en 48 minute een keer rondom die aarde vlieg.